Oor Ons
Ligpos is 'n geregistreerde arbeid- en werwingsagentskap gebaseer in die Pretoria-streek. Ons is onvoorwaardelik en onomwonde ’n Christelike onderneming, met Jesus Christus as ons Koning, die Heilige Gees as ons dryfveer en die Vader as ons totale lewensbron.
Vanuit hierdie belydenis werk ons nie volgens die tradisionele, stadige metodes van die bedryf nie; ons hanteer datawetenskap, strategiese netwerkanalise en taktiese markontginning om wetenskaplike akkuraatheid aan ons kliënte te lewer. Ons glo in absolute eerlikheid, professionaliteit, hoë taalsuiwerheid (Afrikaans en Engels), en 'n kultuur waar individue eienaarskap van hul uitsette neem.
Ons is op soek na gedrewe, passievolle interns wat bereid is om gevorderde metodologieë aan te leer en hulself te bewys in 'n vinnige, resultaatgedrewe omgewing.
Die Kern van Hierdie Internskap: Jy word betaal om te leer
Belangrike Kennisgewing: Hierdie is nie ’n pos vir iemand wat beskou dat hulle reeds "klaar geleer" is en nou bloot net ’n vinnige inkomste wil genereer nie. Hierdie is ’n eksklusiewe en intensiewe studie- sowel as praktiese geleentheid. Jy word inderdaad betaal om te studeer en jouself te ontwikkel.
Hierdie internskap is ook spesifiek daarop gerig om as 'n wegspringplek te dien vir jong mense wat graag wou en kon studeer, maar nie die finansiële fondse of geleentheid gehad het om dit te doen nie.
Ons rig ons op persone wat óf reeds ’n toepaslike teoretiese agtergrond het, óf die rou potensiaal en dryfkrag besit om die werklike, praktiese ondervinding op te doen om ’n top-vlak werwingskonsultant te word. Jy gaan nie bloot in die diepkant ingegooi word nie; ons stap die pad van module tot module saam met jou en begelei jou doelgerig vanaf ’n onervare (dog leergierige) individu na ’n uiters bekwame en gesogte spesialis in die bedryf.
Wat die Rol Behels
Hierdie is nie 'n administratiewe "lessenaar-sit"-pos nie. Jy gaan ingewy word in 'n omvattende, 13-module nasionale opleidingsprogram wat jou stap-vir-stap sal transformeer in 'n top-vlak konsultant. Uiteindelik sal jy verantwoordelik wees vir die volledige kommersiële pyplyn:
Markontginning: Identifisering en ontginning van nuwe sakegeleenthede en aktiewe vakatures via gevorderde digitale en fisiese jagmetodes.
Data-bestuur: Volledige en akkurate databestuur binne die Odoo CRM-stelsel om pyplyn-integriteit te verifieer en te verseker.
Multimedia-bemarking: Skepping van professionele, hoë-impak digitale bates en werwingsvideo's om handelsmerk-dominansie te vestig.
Kandidate-sifting (HUMINT): Die uitvoering van wetenskaplike, gestruktureerde onderhoude en die opstel van outomatiese sifting-reëls (ATS) om top-talent te identifiseer.
Kliënteskakeling & Transaksie-sluiting: Direkte skakeling met korporatiewe besluitnemers, die verdediging van Ligpos se kern-personeelmodelle, en die wetlike belyning van plasings.
Minimum Vereistes
Taalvaardigheid: Absolute vloeiendheid en korrekte, professionele taalgebruik in beide Afrikaans en Engels (gesproke en geskrewe).
Tegniese Aanleg: Gemaklik met digitale stelsels (CRM-stelsels, Google Workspace, en basiese multimedia-platforms).
Persoonlikheidseienskappe:
'n Dik vel en die vermoë om koue markverwerping takties te hanteer.
Die vermoë om kritiese terugvoer te verwerk sonder emosie (ons soek 'n raadgewer en kritiese klankbord, nie iemand wat sag hanteer wil word nie).
Hoë vlak van selfdissipline en proaktiewe inisiatief.
Logistiek: Betroubare eie vervoer (kritiek vir latere veldwerkfases).
Kwalifikasie: 'n Toepaslike tersiêre kwalifikasie (Menslike Hulpbronne, Kommunikasie, Besigheidsbestuur, of verwant) sal 'n sterk aanbeveling wees, maar jou ingesteldheid, aanleerbaarheid en werksetiek is deurslaggewend.
Wat Ons Bied
'n Gestruktureerde, praktiese internskapprogram met duidelike, kwantitatiewe prestasieteikens (KPI's) per module.
Direkte finansiële aansporing (Kommissiestruktuur): Bykomend tot jou basiese stipendium, kwalifiseer jy vir direkte prestasie-inkomste:
40% kommissie op die netto agentskapfooi per suksesvolle permanente uitplasing wat deur jou hanteer word.
20% van die lopende kommissie wat die agentskap verdien uit gekontrakteerde uitkontrakteringsdienste binne jou portefeulje.
Direkte mentorskap en blootstelling aan gevorderde besigheidstrategieë, arbeidsregtelike fondamente en gedragsekonomiese beginsels.
'n Duidelike loopbaanpad: Interns wat die harde bakens en kommersiële teikens suksesvol behaal, kwalifiseer vir permanente inskakeling en progressiewe kommissiestrukture binne die maatskappy se massaproduksie-enjin.
DOEN NOU AANSOEK!
As jy gereed is om jouself aan 'n streng, professionele, waardegedrewe en hoogs lonende uitdaging te onderwerp, dien jou aansoek hier in.